Thomas kom met die Fanny, as deel van die geselskap Britse Setlaars onder leiding van Thomas Butler, na Suid-Afrika. Hierdie groep is gewerf in Wicklow, Ierland en het op 12 Februarie 1820 vanaf Cork vertrek. Hulle arriveer op 1 Mei in Simonsbaai en teen die middel van Mei seil hulle verder na Saldanhabaai waar hulle aan wal gaan. Butler se geselskap is gevestig by Taaiboskraal aan die Jan Disselsrivier in die distrik Clanwilliam. ‘n Groep, wat ontevrede was met die toestande in Clanwilliam, vertrek na Albanie. Fowler was een van die wat verkies het om in die Wes-Kaap te bly.
Volgens die amptelike lys was Fowler 36 jaar oud en ‘n skrynwerker van beroep. In die betrokke geselskap Setlaars was ‘n 16-jarige seun, John Montgomery, wat as John Fowler op die geselskapslys aangedui is. Hy was egter nie die seun van Thomas nie – hy is sodanig gelys om kwytgeskeld te word van die deposito en het as seeman gewerk vir sy passaat. Sien ook: Irish Settlers to the Cape: History of the Clanwilliam 1820 Settlers from Cork Harbour deur Graham Brian Dickason (1973; AA Balkema; Kaapstad).
Volgens Thomas se testament, gedateer te George op 3 Maart 1833, blyk dit dat hy in Ierland wel ‘n gesin agtergelaat het. Hy benoem as erfgename die volgende kinders gebore uit sy huwelik met Jean MADDERS: Richard (oudste seun) erf die belange wat hy gehad het in die grondstukke Brewers Hill en Boggy Meadows. Sy belange in ander landelike eiendom in County Wicklow asook roerende goedere word in gelyke dele verdeel tussen sy seuns Richard, William en Thomas en twee dogters Hanna en Abigael.
Hy bepaal ook verder dat after paying all my lawful debts and funeral expenses, I bequeath unto Gertrude Elizabeth & John Christian Fowler born of Gertrude Lampbreghts all the property which I may be possessed of in South Africa at my death as well as the sum of £100 to be drawn from my property in Ireland.