In die opgaafrolle wat die tydperk vanaf 1802 – 1804 dek, word aangedui dat Jan-hulle in die Wyk AgterRenosterberg woon, wat later die Wyk Renosterberg word. Die wyk het hoofsaaklik om Middelburg Kp gelê en gestrek tot naby die huidige Steynsburg. Die gebied was eers deel van die Distrik Graaff-Reinet, toe Cradock en daarna Colesberg. In die opgaafrol van 1811 word aangedui dat Jan-hulle in die Wyk Seekoeirivier woon. In 1835 is die plaas Springfontein in die Wyk Nuwe Hantam van die Distrik Colesberg vir Jan uitgemeet. In ‘n testament van 1845 word melding gemaak van hulle plase Poortjiesfontein en Dwaalfontein wat geleë was in die destydse Wyk Bo-Seekoeirivier in die Distrik Colesberg. ‘n Endossement word aangebring op ‘n testament in die Kaapkolonie in 1853. Op welke van die drie plase Janhulle gewoon het, kon nie bepaal word nie. Daar is te veel Venters met die name Jan Adriaan, insluitende Jan se oudste seun Jan Adriaan, om sonder twyfel te sê dat Jan van vroegs af ‘n Trekboer was. Tog is daar bepaalde inligting wat vereis dat daar oorweging aan die Trekboer moontlikheid geskenk moet word en wat moontlik later meer konkreet kan word. Daar is ‘n Jan A Venter as Trekboer gelys in 184217. In ‘n handgeskrewe register van Trekboere (verwysing) verskyn die naam van ‘n Jan A Venter weer en daar word aangedui dat hy die plase Klipfontein en Visserspost op 20 jaar huurpag van Griekwas verkry het. Dan is daar ok ‘n aantekening in die akteboeke dat die plaas De Put 379 naby die Rietrivier op 20.2.1852 deur 'n Jan Adriaan Venter bekom is18. . Die gegewens dui gevolglik daarop dat Jan heel waarskynlik ‘n Trekboer was en dat die verhuising van sommige trekboere van die Kaapkolonie na die Vrystaat eerder ‘n proses as ‘n enkele gebeurtenis was. Daar word ten opsigte van Jan se seun, Koos Venter, aangedui dat hy hom in 1852 in die Vrystaat gevestig het (volgende hoofstuk). Toe die Gereformeerde Kerk Reddersburg in Mei 1859 gestig is, word na Jan verwys as wonende in die Distrik Bloemfontein. Op 21.12.1859 maak Jan egter ‘n testament in die Kaapkolonie19, wat hy teken op die plaas Springfontein. Sedert 1854 is Jan ‘n wewenaar. Hy woon blykbaar vir ‘n hele tyd in die Bloemfontein distrik. In 1870 vertrek hy vanaf die Gereformeerde Kerk Reddersburg na die gemeente in Bethulie. Hy is egter in die Bloemfontein distrik op die plaas Misgundsfontein oorlede.
Op 15 Maart 1837 word aangeteken dat die plaas Springfontein20 in die Afdeling Colesberg, Wyk Nuwe Hantam, opgemeet is vir Jan Adriaan Venter, Piet se seun 21. Daar is 'n swak fontein wat geskik is vir tuinmaak en vir drinkwater van die vee op die plaas. Die plaas is 8776 morg groot: 6000 morge is goeie weiveld en 2776 morge is swak karoogrond. Jan maak op 21 Desember 1859 ’n testament te Springfontein.
Sy een seun, Sarel Daniel word ’n predikant word en sy seun, Koos Venter, het nog tydens Jan se lewe diep spore in die Vrystaat getrap as politikus en kerkman. Nog ’n seun, Petrus (e5), neem deel aan die Dorslandtrek en sterf tydens die trek.