Inherits Constantia, Lauanfurde and Drakenstein.
http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2010/12/18/VB/6/cxagterpaaie.html
ROUXVILLE. – As ’n mens die horlosie ’n halfeeu kon terugdraai en jy ry aan op Constantia, sal dit wemel van mense voor die pragtige opstal, perde sal runnik en Afrikanerbeeste glimmend in die son langs die populierbos pronk. Nou stap ’n man met spierwit hare deur die kerkhof langs die populiere: Oom Stephanus Philippus Fouché (83) is die vierde SP Fouché in die kerkhof. Net hy lewe nog.
So ver die oog kan sien, was Fouché-grond: Babel oorkant die bos was wyle staatspresident Jim Fouché s’n; Halleton agtertoe was sy broer, Droogte, se woonplaas. Sy grootjie het nog Raveloo, Eland-spruit, Butata, Valkkrans en Poortjie aangeskaf. Las hier tussen berge die spogplase Goedehoop, Rosefontein, Harveyshoek en Geheeltevrede by en die wawiel-Fouché-plase om Constantia tussen Koesberg en Die Poort was aansienlik. Dit was die ryk Fouchés dié. Nou’s hier g’n Fouché oor nie. Net die statige grafte, klipmure, ou stalle, skure, bome en stories van bykans twee eeue oor die boere-adel, baanbrekers, en hul spog-perde en -beeste. Oom Stephanus was ná 170 jaar die vyfde Stephanus Philippus Fouché wat die laaste Fouché-plaas, Constantia, se voordeur toegetrek het.
Hy moes ’n seun help en 4 000 merino’s en 456 Afrikaners verkoop en is self onder deur. Die ingevoerde perde, die beeste, die duisende merino’s, is alles weg. Hy’s ook die laaste van die Constantia-Fouchés oor op Rouxville.
DIE Fouchés van Constantia word onthou vir hul perde en beeste. Oupa Dowe Fanie en sy seun, Fanie, het ’n goeie Afrikanerbees-stoetery gehad waarmee die Goue Beker in 1930 op die Johannesburg-skou met die bul én koei ingepalm is. Die bul se naam was Constant en die koei Whylairna. Pa Fanie het die eerste Amerikaanse saalperdhings, Richard Peevine de Lion, in 1934 ingevoer. Proud Bourbon O’Goshen is in 1938 ingevoer en in 1948 is die beroemde Edge View King van mnr. C.P. Martin van Kenton in die Amerikaanse staat Ohio ingevoer. “Die dag toe hy op Rouxville afgelaai word, was daar seker ’n 100 of 200 mense wat kom kyk het. My pa het hom in die treinwa ’n toom aangesit en bloots sy gange daar voor die stasie gery. Dit was te pragtig.” Oom Stephanus het Edge View King self gereeld gery. Hy loop weer na die perdestalle op Constantia waar die beroemde perde gestaan het: Edge View King, Edge View King II, My Fair Lady. Bó teen die gewel het sy pa die woord Takodah geverf. Dit beteken “welkom” in Spaans. Hier is ook kampioene soos Churchill en National Defender geteel. Oom Stephanus het Edge View King by sy eie dogter, Mentilla, gebruik en Kings Parader geteel, self ’n beroemde perd. Edge View King is op 1 April 1960 dood en op ’n heuwel agter die huis begrawe.
OP pad van die dorp na Constantia noem oom Stephanus al die vorige eienaars van die plase, soos oom Koot Donkie van Waaipoort en sy vriend, Koos du Plessis van Soekiesnek, wat die vorige week begrawe is. Sy geslag mense raak uitgedun. Die Blaasbalkspruit was in vloed die aand in 1926 toe hy gebore is. Sy pa moes die perdekar deur die water stuur om dr. Jordaan op te laai om sy ma, Duifie, en die baba te help. Nou kyk hy na sy ma en pa se grafte. Sy ma het die teksvers 2 Tim. 2: 4-8 voor in haar Bybel aangeteken, onthou hy. “Ek was baie naby aan my ma, Duifie (Maria Aletta). Hier moet hulle my begrawe,” sê oom Stephanus en wys na die oop strook tussen sy ma se graf en die graf van sy tweede vrou. Hy het ’n foto van sy ma toe sy in 1938 Rouxville se Wolkoningin was. “Sy was pragtig. Sy was ’n onderwyser hier by oom Hamertjie Cronjé op Morway vir Andries, hul seun. Sy en my pa is in 1925 getroud.” Oom Jim en oom Droogte was die Nasionaliste en sy pa, Fanie Constantia, die Sap.
OOM Droogte Fouché van Halleton was ’n legende. Stories oor hom strek veel verder as die Suid-Vrystaat. En oom Stephanus het baie van hierdie stories persoonlik beleef.
“Ek het altyd saam met sy pa, oom Kootjie, met die wit perd met die trêppie gery. Oom Droogte het altyd sulke snaakse sêgoed gehad.” Hy onthou die storie van oom Droogte se lus vir ploeg ná ’n groot reën. So drie dae ná die reën was die Blaasbalkspruit nog sterk in vloed. Oom Droogte bel Hans Smith, sy plaasbestuurder, en vra of hy al ploeg. Nee, sê Hans, dis nog te nat. Twee dae later was dit dieselfde storie – selfs te nat vir die ongeduldige oom Droogte se nuwe Hanomag-trekker, die eerste in Rouxville.
“So vyf, ses dae ná die reën lui hy vir Hans en sê: ‘Hans, kyk, nou donners ploeg jy met die osse, al val hulle vas tot net hulle bleddie horings uitsteek – maar ploeg gaan jy ploeg!”
In Halleton se huis was daar een aand ’n gedoente toe oom Droogte opblaas van te veel krummelpap met dikmelk.
“My ma-hulle hoor die telefoon lui verskriklik vir oom Jim-hulle. Dit was vier langes vir Babel. My ma staan op en antwoord. Dit was tant Walina, oom Droogte se vrou, wat sê Droogte wil doodgaan. My ma en my pa gaan maak oom Jim en tant Lettie wakker en ry self Halleton toe,” vertel oom Stephanus.
“Daar sit oom Droogte op ’n kis met sy oorlede ma se motgevrete wolmus en nagjurk aan. Sy hare peul in bossies deur die gate. My ma en tant Lettie gaan aan te lag. Hy was vir hulle vreeslik kwaad, hy’t hulle dit nooit vergewe nie.
“Toe vra my pa vir hom hoekom trek hy die goed aan? Toe sê hy nee, hy wil in sy ma se goed doodgaan. Toe hy eindelik afgeblaas het, sit hy toe met dieselfde nagjurk en mus aan en klawerjas speel.”
OOM Stephanus is in 2000 omtrent net met sy 1980 Mercedes-Benz en sy chauffeur van Constantia weg. Hy het net ’n dosyn of so Fouché-portrette uit die ou herehuis kon neem. Hy het gehoop die goue rame om oupa Dowe Fanie-hulle se portrette was iets werd, maar dit was nie veel nie. Die chauffeur het nog lank met die wit handskoene by die Suzie Pansegrouw-tehuis opgedaag, maar later ook nie meer nie. Die Mercedes het al meer as 800 000 km agter die blad. Die laaste van die ryk Fouchés van Constantia is nou net ryk aan die stories van ooms en tantes van weleer. Gedagtes aan pa Fanie se perde, ma Duifie se blommetuin en sy vriend, Etienne Fouché (9), oud-staatspresident Jim Fouché se seuntjie.
Hy het die plek tussen die bome gaan wys waar Etienne se mooi praalgraf gebou is.
Dit is waar die seuntjies smiddae tussen die bome plaas-plaas gespeel het as hulle met hul ponies na mekaar gery het – tot daardie verskriklike nag toe Etienne longontsteking opgedoen het.
“Ja’k,” sê oom Stephanus en kyk lank na die foto van die drie pronkende perde in 1936 op die Rouxville-skou: Voor is pa Fanie op Bona-parte, dan hy op Japie en agter sy broer, Pietertjie, op Kolbooi.
Almal is lank reeds dood en net hy woon hier klipgooi van die vervalle skouterrein.
“Dit kan jy ook noem: Ek het nou die oudste geword van al die Fouchés van Constantia,” sê hy.
As hy na dié foto’s kyk, is hy sommer weer ’n jong man, Stephanus Phillippus Fouché die vyfde wat Edge View King voor Constantia se huis ry, die huis met die pronkende perde op die gewels en die wapen van die Republiek van die Oranje-Vrystaat wat sy oupa en kommandant in die Basotho-oorloë, SP Fouché die eerste, teen die muur laat aanbring het.
Of hy en sy bruin speelmaat, Jors Smith, speel gou ’n potjie tennis met die bladbene van ’n bees teen die plaashuis se muur.
Saans kruip hy weer in die bed in sy ouma se kamer op Constantia.
Voordat hy die kombers oor die kop trek, luister hy na die perde in die stalle waarop pa Fanie se woorde Takodah (welkom) altyd sal bly staan.
DIE laaste van die Fouchés van Constantia, Rouxville. Oom Stephanus Fouché (83) was die laaste Fouché wat ná vyf geslagte en sowat 170 jaar op die plaas Constantia, Rouxville, geboer en gewoon het. Hy was ook die laaste Fouché van dié gebied, wat ook wyle staatspresident Jim Fouché van die aangrensende plaas Babel ingesluit het. Hier staan hy vandeesweek weer voor die pragtige huis op die plaas wat deur die nuwe eienaar, mnr. Gerhard Cronjé, herstel word. Hierdie plaas is waar die saalperdbedryf in Suid-Afrika begin het. Foto: charles smith
STEPHANUS PHILIPPUS FOUCHÉ die vyfde. Oom Stephanus Fouché (83) stap hier deur die pragtige Fouché-begraafplaas op die plaas Constantia, Rouxville. Hy is die laaste van die Constantia-Fouchés oor in Rouxville, maar nie een is meer op die plaas nie.
’n TROTSE oomblik. Die Fouchés van Constantia op die Rouxville-skou in 1936. Voor is pa Fanie op Bonaparte, dan volg Stephanus op Japie en laaste is Pietertjie op Kolbooi. Van die mense en perde lewe net oom Stephanus (83) nog. Foto: verskaf
TANT DUIFIE FOUCHÉ. Oom Stephanus Fouché (83) onthou die oomblik nog goed toe sy ma in 1938 Rouxville se Wolkoningin was. Hy onthou selfs dat Chessie van der Merwe tweede en tant Emmie Connoly derde was. Hy het by die deur van die stadsaal ingeglip om sy ma dop te hou. Foto: Verskaf
LINKS: Die Fouchés van Constantia, Rouxville, was groot perdeboere. Hier hou oom Stephanus Fouché (83) ’n foto vas van die Amerikaanse saalperd Edge View King wat sy pa, Fanie, omstreeks 1948 ingevoer het. Tussen 100 tot 200 mense het by die treinstasie op Rouxville saamgedrom toe die perd hier aangekom het. Sy pa het dadelik die perd deur sy gange gesit daar voor die stasie. Edge View King het ’n reuse- invloed op die saalperdbedryf in Suid-Afrika gehad. Foto: charles smith