ABW Hulle huwelik duur 57 jaar, Piet was ‘n boer. Hulle het blykbaar 10 kinders gehad. Na die dood van Piet se skoonpa, Koos Venter, gaan hy en twee van sy swaers ‘n ooreenkoms aan oor die verdeling van die gedeeltes van Broekpoort wat hulle erf en Piet en Hester kry die gedeelte wat Lokpoort genoem is en wat 870 morge groot was. Hulle behou een-derde van die regte op die water van die Slikspruit.394 Hulle het blykbaar vir die res van hul lewens daar gewoon. Hulle het ook Erf 229 in Bethulie besit. Hulle was blykbaar lidmate van die SD Venter Kerk en het met die ontbinding van die kerk aangesluit by die Gereformeerde Kerk Bethulie. Hester het dan ook in dié kerkverband in 1937 die stuk oor Koos Venter se bekering oorhandig. Piet, Hester en agt kinders is op 23 April 1901 opgeneem in die Bethulie Konsentrasiekamp395 en Piet is blykbaar later oorgeplaas na die Krygsgevangenekamp te Groenpunt in Kaapstad396. Die ouderdom van die kinders in die konsentrasiekamp het gewissel van 16 jaar tot 2 maande. In die kamp is hulle kinders Jan Adriaan (8 jaar, 27.8.1901, masels) en Coert (Koert) Petrus (6 maande, 28.8.2901, longontsteking) oorlede. Die oorblywende gesinslede keer almal op 21 Julie 1902 terug na Broekpoort. Teen Hester se afsterwe besit hulle nog Lokpoort asook ‘n erf te Bethulie. Hester en Piet is binne ses maande van mekaar oorlede in 1941. Hulle eiendom is per veiling verkoop en nadat kostes afgetrek is, is die bedrag tussen die kinders verdeel. In die boedel van £3666 was daar, onder andere, 364 merino skape, 10 beeste, 11 donkies, ‘n motor, ‘n bokwa, ‘n perdekar en ‘n skotskar.