ABW Hulle het 3 kinders gehad. Abraham was ‘n boer. Hester trou weer na Abraham se dood met die wewenaar Hendrik Kloppers wat gebore is c. 1804 en nagenoeg 89 jaar oud was toe hy in 1943 oorlede is. Hendrik het uit sy vorige huwelik sewe kinders gehad en was ‘n boer. Toe Hester en Abraham Coetzee trou in 1866 is hy ‘n veeboer van die plaas Ongeluksfontein in die Smithfield distrik en Hester was afkomstig van Broekpoort in die Distrik Bethulie. Wanneer hulle in 1880 ‘n testament opstel woon hulle in die Rouxville distrik op die plaas Koffiefontein. Na die Anglo-Boere-oorlog het beide Hester en Abraham eise om skadevergoeding ingedien. Hulle verhaal bevat soveel elemente van wat in die oorlog gebeur het dat dit meer breedvoerig hier behandel word. Hester het ook ‘n volledige inventaris van die verliese aan los goedere opgestel en die oorgrote meerderheid daarvan word hieronder ingesluit aangesien dit ‘n beeld verskaf van hoe hulle geleef het. Abraham was op kommando aan die Boerekant tot Maart 1900 toe hy na sy plaas Vergelegen (groot 1331 morge) in die Bethulie Distrik gaan om aan sy boerdery aandag te gee. (Dit was juis een van die groot probleme van die Boere-offisiere dat baie van die burgers in ‘n stadium die kommando’s verlaat het om aan die boerdery aandag te gee.) Op 31 Maart 1900 het Abraham te Bethulie ingevolge die proklamsie van Lord Roberts sy wapens neergelê. Hy meld nie of hy die eed van neutraliteit afgelê het nie, maar dit was heel waarskynlik die geval. Hy ontvang ‘n pas van die Britte om terug te gaan na sy plaas. (Die onderneming in die proklamasie van Lord Robers was dat diegene wat die wapen neerlê na hulle plase kan teruggaan.) Abraham bly toe vir nagenoeg 11 maande op die plaas. Daarna neem die Boere hom weg, want hulle sê dat hy die Britte gehelp het en hou hom op kommando vir byna drie maande. (Die Boere het in heelwat gevalle die wapenneerleggers – of hendsoppers soos hulle genoem is – gedwing om weer by die kommandos “aan te sluit”.) Hy en sy twee skoonseuns wat saam met hom was, slaag daarna om die Boere te ontglip en hy keer terug na die plaas. Op 2 Mei 1901 het Britse kolonne hom en sy gesin op die plaas gevange geneem en na Aliwal-Noord geneem. (Dit was natuurlik heeltemal in stryd met die onderneming in die proklamasie van Lord Roberts dat die wapenneerlêers op hulle plase kan bly.) Op Aliwal-Noord is Hester in die konsentrasiekamp opgeneem en Abraham is vir elf dae in die kamp aangehou. Daarna word hy in die tronk op Aliwal-Noord gevange gehou en toe na ‘n krygsgevangenekamp in Indië gestuur. Die Britte het ook al hulle vee meegevoer en die meeste daarvan is aan Hester terugbesorg op Aliwal-Noord, behalwe 370 skape, 9 beeste en 6 perde. Toe sy hiervoor skadevergoeding eis, word ‘n opmerking op die lêer gemaak dat die getal afgetrek is vir vrektes wat paasgevind het. Hester se eis om skadevergoeding is 2 Mei 1901 gedateer en die eis van Abraham 2 September 1903. In Hester se eis meld sy dat hulle gedwing is om hul huis te verlaat en dat hulle nie kon voorsorg tref vir die behoud van die los goedere nie. Die eise word nie goedgekeur nie, omdat Abraham volgens die Britte wat die eise administreer “Took up arms again ...” toe hy deur die Boere gedwing is om weer op kommando te gaan. Abraham sterf te Oppermanskraal in die Winburg Distrik. Hendrik Kloppers woon in Smithfield toe hy in 1843 oorl;ede is.